× art.co.za artists exhibitions training auctions blog

Spotlight on Isabel le Roux, the Artist

Die Burger 2024

Spotlight on Isabel le Roux, the Artist, ’n boek wat dié skilder se loopbaan van vyf dekades vasvang, is onlangs uitgegee. Haar lewe lank beskou sy kuns as ’n leefstyl, sê sy aan AJ Opperman.

Isabel le Roux stem saam met ’n opmerking deur die ontslape skilder Bettie Cilliers-Barnard: “Ek skilder liewer groente voordat ek dit kook.” Le Roux, wat saam met haar man, Thys, aan die Wes-Rand woon, se loopbaan strek oor vyf dekades en sy beskou kuns as ’n leefstyl. ’n Boek oor haar loopbaan, Spotlight on Isabel le Roux, the Artist, is onlangs deur Dream Africa Productions and Publishing uitgegee. Sy en haar dogter Liezl het saam daaraan gewerk. “Dit was ’n vreeslike groot taak,” sê Le Roux. “Ek het al vorige kanse gehad dat mense ’n boek wou doen en ek dit deur my vingers laat glip, want dit was vir my so moeilik om myself vas te vang. Ek het nie geweet waar om te begin en waar om te los nie. Ek het eers gesê ons kan dit nie doen nie, maar hoe meer ons daarop ingegaan het, het ek besluit ons kan dit doen.

“Een van die redes waarom ek in die verlede nogal gesukkel het om ’n boek saam te stel is omdat ’n mens oor 50 jaar deur soveel stadiums gaan; van realisme tot ekspressionisme en alles tussenin.

“Ek het my nooit laat beperk deur hoe ander mense my in ’n sekere stadium sien nie. Ek het altyd maar voortgegaan om te probeer om my ander stadiums te bereik.” Liezl is ook ’n kunstenaar en sy en haar ma het die boek nie chronologies nie, maar meer tematies saamgestel.

Liezl is die middelste van Isabel en Thys se drie dogters. Rochelle, die oudste, skilder nie. Marlise, die jongste, is ook ’n visuele kunstenaar en woon deesdae in Mauritius. Le Roux, Liezl en Marlise het al vantevore saam uitgestal, maar hul werk verskil baie.

“Die oudste een sê altyd haar kuns leef sy uit deur al die gemors agter my skoon te maak . . . Al die kunsprojekte wat ek aangepak het.” Nog ’n skeppende sy van Le Roux is die skryf van gedigte.

Haar boek sluit Engelse gedigte in wat sy geskryf het waarby haar naam as Isa Bella pryk.

“Ek het lank gedigte geskryf sonder dat Thys geweet het, maar die eerste klomp wat ek geskryf het, was baie privaat en ek het dit met ’n wagwoord op my rekenaar gestoor en naderhand die password vergeet. Ek kon dit nie terugkry nie, dis verlore. Ek het baie gedigte in Afrikaans geskryf, maar gelukkig ook in Engels, want ’n gedig sal ek nie graag wil vertaal nie. So al die gedigte wat in die boek verskyn, het ek in Engels geskryf.” Haar nooiensvan is Thomas en haar pa was van Walliese afkoms.

“My pa is dood toe ek ses maande oud was, so daai verbintenis was nie heeltemal daar nie. Ek het eintlik ná my troue werklik begin skilder.”

Die gegewe dat sy ’n nooi Thomas was met ’n pa van Walliese afkoms laat my aan die Walliese digter Dylan Thomas dink. En om die digterlikheid verder te neem, verjaar Le Roux (80) in Oktober, die “mooiste, mooiste maand” soos C. Louis Leipoldt se gedig lui. Die ontslape letterkundige Ampie Coetzee het lank gelede ’n uitstalling van Le Roux in Stellenbosch geopen en na Antjie Krog se digbundel Kleur kom nooit alleen nie verwys. “Ek dink as ’n kunstenaar het jy baie tyd om te dig,” sê Le Roux.

“Maar as jy nie daardie gedig onmiddellik neerskryf nie, dan is hy weg. En dis nogal erg, maar kuns is natuurlik ’n kreatiewe ding. Ek dink altyd musikante is fantasties, want hulle kan speel terwyl hulle hul gemoed uiter. “Gedigte kan jy meer geredelik neerskryf. Ek gaan deur sulke fases. Jy moet ’n sekere mate van alleenheid ook hê, tyd om by jouself te dink, maar ek het al gedigte wat by my opduik verloor omdat ek dit nie onmiddellik neerskryf nie. “Kyk, as jy ’n digter van formaat is, gaan sit jy en gaan skep die gedigte, maar dis nie hoe ek werk nie; my gedigte het spontaan gekom. Ek sal my nie oor digkuns wil uitlaat nie.” Le Roux hou nie daarvan om haar skilderye te verduidelik nie, hoewel daar al uitsonderings was. Spotlight on Isabel le Roux, the Artist is nie ’n akademiese boek nie.

Die skep van ’n skildery verg ook baie alleentyd.

“Ek het oor die 14 000 skilderye voltooi.

Dis baie harde werk. Ek dink nie mense weet aldag hoeveel duisende kwashale daar in een skildery is nie. As ek begin, begin ek kleure rondskuif. Dan kom die skildery van daar. So my skilderye ontwikkel dikwels soos wat ek dit skilder. “Dis amper soos ’n legkaart, maar daar is baie goed waaraan jy heeltyd moet dink. Jy moet heeltyd dink aan lyn, aan balans. Soms voeg jy net een rooi kolletjie by en dan balanseer dit. So daai goed is nogal moeilik.” Le Roux het nie in ’n huis vol skilderye en kuns grootgeword nie, maar haar ma was baie skeppend. “Ek het geweet ek gaan ’n kunstenaar word. Ek was nie seker watter kunsrigting ek sou volg nie, maar ek het net geweet kuns is wat ek sou doen.” Sy was ’n onderwyseres, maar het later voltyds geskilder.

“Dit was baie dapper daai tyd. Ek het klein kindertjies gehad. Ek het dadelik ingeklim en uitstallings gehou. Ek het moed gehad. Jy moet dit hê om jou werk daar buite te sit. Dis ’n moeiliker mark nou vir kunstenaars. Ek is bly ek hoef nie nou ’n lewe daaruit te maak nie.” Le Roux is in Rustenburg, Noordwes, gebore, soos Cilliers-Barnard, hoewel sy baie ouer as Le Roux was.

“Bettie was ook by die Cité Internationale Des Arts in Parys. Ek het by my huis in Kosmos in Hartbeespoort ’n geleentheid gehad met kunstenaars en toe was sy ook daar. Ek het ook by haar gekuier. Haar hele filosofie het my aangetrek. Jy weet, dat kuns jou lewe is. “Die hele huis in Kosmos was absoluut vir my ’n kunsprojek. Ek het daai huis ontwerp en gebou uit kuns. “Elke steen was omtrent ’n skildery, kan ’n mens maar sê. Ek het daai tyd so baie gewerk dat ek gedink het die ateljee is nie groot genoeg nie . . . Toe het ek ’n ander huisie gekoop, maar dit was ook nie aan die begin reg nie, maar ek het dit in ’n ateljee omskep. Dis vandag ’n gastehuis.” Nou is haar kunsreis geboekstaaf in die boek. Om fisiek te reis, het haar werk verder gevoed.

“Ek het my nooit van my kuns gedistansieer as ek gereis het nie. Toe ons jonk was, het Thys vir my gesê ek vat net nie ’n kwas saam as ons vakansie gaan hou nie. En toe het ek later vir hom gesê: ‘Weet jy, dis waar ek iets anders van die wêreld sien.’ “Al vat ek nie ’n kwas saam nie, gaan ek mentally my kop saamvat. Ek was gelukkig om ’n paar keer in Venesië te skilder; ook in plekke soos Toskane, Provence en Mexiko. Dan kom ek terug en dan begin die reis met jou praat as jy terugkom.” Sy onthou ’n opmerking wat die kunstenaar Gunther van der Reis teenoor haar gemaak het: “Isabel, jy kan nie net in hierdie pragtige huis van jou sit en skilder nie. Jy moet jou wêreld wyer maak.” Sy het daardie raad gevolg en dit was klaarblyklik die regte keuse.

“Dit het in ’n stadium baie goed gegaan. Thys het vroeër afgetree en kon my vergesel. Ons kon reis en na plekke gaan. Dit het nogal ’n groot verskil gemaak. Ek is gelukkig dat dit vir my gewerk het. Dat ek my kop reg opgeskroef gehad het. Ek het na my finansies gekyk.” Haar boek eindig met ’n verwysing na Pablo Picasso. ’n Resensent het op ’n keer oor ’n uitstalling van Le Roux geskryf: “Haar werk is byna soos ’n Picasso wat kleur ontdek het.”

“Ek het nooit gedink ek wil soos Picasso werk nie,” sê Le Roux. “Maar daar was iets in die manier van hoe ek dink waarmee ek met Picasso kon assosieer. En ek dink daai resensent het dit ’n bietjie raakgesien.

“Die boek is nogal belangrik. Ek kan geen retrospektiewe uitstalling aanbied nie, want my werk is die wêreld in. Die skilderye wat ek het, is dié wat oorgebly het. ’n Vriendin van my wat onlangs oorlede is het nogal geskerts dat my kinders nou net my rejects gaan erf!”

Spotlight on Isabel le Roux, the Artist het ’n beperkte oplaag en kan bestel word deur ’n e-pos aan liezlleroux2@gmail.com te stuur, www.isabelleroux.co.za te besoek of 083 273 5723 te bel.


Follow this artist