Helena Hugo Press | Art.co.za | Art in South Africa
stay safe. info & support on COVID-19 at sacoronavirus.co.za
× art.co.za artists exhibitions training blog shop

Press Articles

Press Photo

Nog verby fotorealisme
deur Anna-Retha Bouwer
Beeld - 1 April 2011

Die Pretoriase kunstenaar Helena Hugo is vanjaar die feeskunstenaar op die KKNK in Oudtshoorn.

Anna-Retha Bouwer het met haar gesels.

’n Kat wandel lui in die voorkamer van Helena Hugo se tuisateljee in Pretoria in, maar dit is die enigste teken van rustigheid in ’n omgewing wat getuig van aktiwiteit.

Helena Hugo is vanjaar die feeskunstenaar van die Absa Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) wat vandag op Oudts- hoorn begin het. Met my besoek ’n paar weke voor die groot uittog is haar werke nog nie klaar verpak nie, party nog nie klaar geraam nie en party nog nie klaar geteken nie.

“Party dae wil ek skree: ‘Ek is kláár met kuns!’?” sê Helena Hugo. “Mense het dalk dikwels die verkeerde idee van wat ’n kunstenaar doen, maar dit is nie asof ’n mens net heeldag staan en wag vir inspirasie nie.

“Daar is baie administrasie wat met ’n uitstalling gepaardgaan,” sê sy, met verwysing na die logistiek daarvan om haar groot geraamde portrette in een stuk in Oudtshoorn te kry.Hugo werk die afgelope paar jaar uitsluitlik in pastel.

“Ek het nooit regtig tuis gevoel in olieverf nie, maar ek was bewus daarvan dat mense in Suid-Afrika ’n bietjie neerkyk op pastelle.

Ek kan nie dink hoekom nie.”Onder ’n helder lig kry die gesig van ’n mynwerker lewe. Daar is iets amper onheilspellend realisties in die blik van sy kykers wat onder die mynhoed na jou staar, so asof dit die prent sélf is wat na jou kyk. Hugo beaam die waarneming.

“Ek dink ek werk verby fotorealisme. My doel is nie regtig om ’n realistiese weergawe van die foto te gee nie. Ek wil eerder verder, dieper kyk, na die persoonlikheid van die persoon wat ek weergee.”Haar werk is dikwels van die “misgekykte mense”. Daar is tekeninge van straatwerkers, ’n boer wat trots in sy mielieland staan, ’n pasiënt in ’n staatshospitaal. Elke keer straal daar ’n soort trots uit die houding of die oë en is ’n mens amper bewus van ’n persoonlikheid wat in die fyn pastelhale lewe kry. “Ek vorm inderdaad ’n verhouding met die portret waarmee ek besig is,” sê sy. Daar is ook ’n besondere band tussen die mense en hul werkomgewing, soos die myntoerusting of die verwer se rollers. Vir haar modelle ry sy soms ver, maar gewoonlik sukkel sy nie om mense sover te kry om vir haar kamera te kyk nie. Sy laat haar ook nie bind deur die foto nie en sal van die besonderhede weglaat of verander as dit nodig is wanneer sy die tekening op grond daarvan maak. Dikwels is dit ook die agtergrond waaraan sy verander.

“Dit is baie keer die plooie om die oë of die tekstuur van die vel wat my eindeloos fassineer. Dit raak byna soos ’n padkaart. ”Op van haar kleiner werke konsentreer sy soms net op die oë. Dit maak nie saak hoe naby jy kyk nie, die detail bly jou stom laat. “Ek dink ek hét ’n bietjie van ’n obsessie met detail. ”Sy noem haar uitstalling by die KKNK gewoon Portret.

“Ek probeer om daarmee ’n breë blik te gee op die mense van Suid-Afrika.” Wanneer Hugo nie met ’n pastelkryt in die hand staan nie, is daar ’n goeie kans dat jy haar in die onverwagse omgewing van ’n bokskryt sal opmerk.

Ná jare van skopboks het sy onlangs boks begin beoefen. En dan, so net ná die KKNK, gaan sy gou haar bokshandskoene vir ’n trourok verruil vir wanneer sy voor ’n paar intieme vriende en familielede in die huwelik gaan tree


KKNK-kunsspektrum breek grense
Beeld - 22 Maart 2012

Helena Hugo is vanjaar die feeskunstenaar op die Absa Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK), wat van 2 tot 9 April in Oudtshoorn aangebied word.

Hugo se pastelportrette, verruklik noukeurige weergawes wat fotorealisme ver verbysteek, verbeeld veral “gewone mense” en werkers. In haar portrette van werkers staan die band tussen mens en masjien of bedryf telkens voorop. Of dit nou mens en stootskraper is of mens en suikerrietland, die hegte konneksie tussen werker en werk word so intiem uitgebeeld dat die identifisering met die werk duidelik blyk.

’n Mens verbeel jou half die werkers neem trekke van die werktuie aan. Hugo buit nie haar onderwerpe uit nie, maar gee hulle weer met deernis – sonder om dit apologeties of verduidelikend te doen.

Sy lewer met haar werk ’n besondere bydrae tot sosiale kommentaar in die Suid-Afrikaanse gemeenskap en die visuele kunste. Haar werk is te sien in die Prins Vincent-gebou in Baron van Rheedestraat in Oudtshoorn. Dié gebou is vanjaar weer die tuiste van die visuele-kunste-aanbod op die KKNK.

Kunstenaars wie se werk in solo-uitstallings in Prins Vincent te sien is, sluit in Vaughn Sadie en Dean Henning, Chris Diedericks, Sandra Hanekom, Hannelie Taute, Collen Maswanganye, Paul Painting, Johann Badenhorst en Stephan Erasmus.

Sadie en Henning se Frequency, ­Lumens, Place is ’n interaktiewe klank-en-lig-projek wat berus op wiskundige formules gegrond op die volume van die vertrek waarin die werk aangebied word. Diedericks se Beautiful World verken aspekte van utopie en distopie en is daarop gemik om te kalmeer en terselfdertyd te ontstel. Daar is deurgaans ’n sekondêre misterieuse storielyn in dié werk.

Van verskrikkers en verstommers is die titel van Sandra Hanekom se uitstalling van olieverfskilderye. In dié werk tree sy in gesprek met figure soos Francisco Goya, Antjie Somers, Egon Schiele en Frida Kahlo. Hannelie Taute se Skeidinsangs handel oor verhoudings as ’n emosionele naelstring. Benewens werk in gemengde media is daar ook beeldhouwerke op dié uitstalling te sien. Met kleurryke nuwe werke lewer Collen Maswanganye kommentaar op die wêreld rondom hom – werke met verwysings na openbare figure. Paul Painting se phan-tas-ma-go-ri-a bevat etse wat die grense van die geheue, begeerte en identiteit verken. Johann Badenhorst se skilderye in die uitstalling (On)duidelik verbeeld alledaagse landskappe en stedelike tonele – met voëls as bemiddelaars. Stephan Erasmus het vanjaar ’n enkele installasiewerk op die fees wat spesiaal vir ’n ruimte in Prins Vincent gemaak is. Die een uitstalling wat nié in Prins Vincent vertoon word nie, is dié van Diane Victor. Drie werke van dié kuns­tenaar is te sien in ruimtes wat nie gewoonlik met kuns geassosieer word nie: ’n begrafnisondernemer, ’n slaghuis en ’n motorhandelaar op die dorp.

Die oogmerk met dié stap is om kuns buite die voorspelbare en gewone “galeryruimte” te neem. Die adresse waar die werk uitgestal word, is by die Prins Vincent-gebou beskikbaar.

Groepuitstallings op die fees is dié van Absa, die ATKV en Rendezvous. As naamborg het Absa oudergewoonte ’n uitstalling met Cecile Loe-dolff as kurator. Boekrak is ’n uitstalling van kunstenaarsboeke van onder andere Sandra Hanekom, Maja Marx, Jonah Sack en Stephan Erasmus.

Die ATKV se Skilder met woorde II is, soos sy voorganger, ’n vernuftige byeenbring van visuele kuns en poësie. Werke van Hanneke Benade, Karlien de Villiers en Jaco van den Heever is van die kuns wat op dié uit­stalling te sien is. Nita Cronjé is die kurator. Verlede jaar is ’n versameling Franse litografiese werke vertoon van die Rendezvous-projek met Paul Boulitreau as kurator. Dié werke is gemaak in die befaamde Pons-ateljee in Parys. Vanjaar se Rendezvous-uitstalling wys die werk van Suid-Afrikaanse kunstenaars wat elk vir ’n maand in dié Paryse ateljee gaan werk en litografieë daar gemaak het. Van die kuns­tenaars wat deelneem, is Hanneke Benade, Johann Louw en Musha Neluheni.

Daar is vanjaar weer daagliks ’n kunstoer wat deur Johan Myburg, kurator van die visuele kunste, aangebied word.


Pastelwerke op fees
deur Elise Tempelhoff
Beeld - 20 Jan 2011

Die Absa-KKNK-feeskunstenaar vir visuele kunste is Helena Hugo. Haar uitstalling van pastelwerke Portret is van 2 tot 9 April in die Prins Vincent-gebou in Oudtshoorn te sien. Hugo bied ’n versameling portrette wat ’n mens veral bewus maak van gesigte wat jy, afhangend van jou eie sosiale status, gewoonlik nie raaksien nie. Haar portrette van werkers in hul werkmilieu en van werksoekers maak ’n mens daarvan bewus hoe belangrik dit is om te kan werk. Hugo is ’n kunstenaar van Pretoria en het onlangs ’n solo-uitstalling gehad in die galery van die Universiteit van Johannesburg.

Beeld ’n Treurspel, en almal kyk weg - 18 Jun 2010

Die Grootvlei-myn is beswaarlik ’n spikkel op die landkaart, net buite Springs aan die Oos-Rand in van die groot vleie wat deel van die Blesbokspruit uitmaak. In ’n stadium was dié goudmyn een van die rykstes in Suid-Afrika. Deesdae is Grootvlei ’n toonbeeld van menslike ellende en ekologiese agteruitgang. Dit is alles wat ’n demokratiese Suid-Afrika nie wóú wees nie. Mense (mynwerkers) woon hier in hostelle waarvan die kraanwater reeds drie maande gelede (weens wanbetaling) afgesny is. In die wooneenhede is geen krag nie en die kombuise is al maande gesluit. Mynwerkers, “die gesigloses”, soos die kunsresensent en kollega Johan Myburg hulle onlangs in ’n resensie oor die kunstenaar Helena Hugo se uitstalling SA@work beskryf het, het die afgelope 75 jaar van alle oorde – Lesotho, Swaziland en Botswana – hier kom woon en werk om Suid-Afrika se goud uit te haal.

Nou is Grootvlei op sy knieë en die werkers oorgelaat aan hul eie lot en die nukke, grille en hebsug van ’n sogenaamde swart ekonomiese bemagtigingsgroep (SEB).

Dié SEB het die regte kleur en die regte vanne: kleinneef Khulubuse Zuma en kleinseun Zondwa Mandela. Hulle is die groot indoenas van Aurora, wat die beleërde Grootvlei moes bestuur terwyl dit in likwidasie is. Maar die myn is in tien maande oor die afgrond bestuur.

Die sowat 100 werkers (die instandhoudingspan) in skag 3 het onlangs uit pure moedeloosheid en frustrasie, omdat hulle al maande sonder betaling werk, die myn se kritieke waterpompe afgeskakel, maar binne drie dae het hul moed hul begewe. Soos mnr. Hennie Buys, hoofingenieur by die pompstasie, verlede week gesê het: “Ons is lojaal teenoor die myn. Ons kan nie toesien dat die pompe oorstroom word en die myn tot niet gaan nie.” Toe skakel hulle maar weer die pompe aan. Die pompe is vandag nog aan, maar daar is geen vooruitsig op betaling vir die werkers nie. Die 1 000 of so werkers wat nog in die myn se hostelle woon, kan nie wegkom nie. Hulle het nie geld om op ’n bus of taxi te klim en huis toe te gaan nie. Hulle kan nie bel nie. Maar dis nie net die likwidateurs en Zuma en Mandela wat hul plig hier teenoor mens en omgewing versaak het nie. Die regering en die Menseregtekommissie (MRK) staan ook in die beskuldigdebank. Ondanks verskeie pleidooie om in te gryp kyk almal gerieflikheidshalwe anderpad. Joernaliste en die Federasie vir ’n Volhoubare Omgewing het die MRK al male sonder tal gevra om te gaan kyk hoe die mense leef en hulle te help.

Ek het hulle gevra of hulle bewus is van hul mandaat wat lui: “Die MRK moet respek vir menseregte bevorder, mense beskerm teen uitbuiting en toesien dat menseregte in die Republiek van Suid-Afrika ontwikkel word.” Hul antwoord was kort: “Jammer, ons kan u ongelukkig nie help nie. Hierdie is ’n arbeidsaangeleentheid.”

Die departement van waterwese het op hul beurt glo klagte teen Aurora aanhangig gemaak omdat besoedelde mynwater in die Blesbokspruit gestort word, maar dis ’n ope vraag of die nasionale vervolgingsgesag die durf gaan hê om Zuma, Mandela en Kie. weens die oortreding van die waterwet te vervolg.

Benewens die menseregteskendings wat by Grootvlei plaasvind, gaan die omliggende omgewing binne ’n paar jaar ook onherroeplik verander. Die Blesbokspruit, wat nooit ’n standhoudende rivier was nie, sal waarskynlik plek-plek begin opdroog. En suur mynwater sal by fonteine (die fonteine waaraan Springs sy naam te danke het) begin uitloop. Wat van Springs gaan word, weet nugter.

Die voorspelling is dat suur mynwater binne ’n jaar of twee in Nigel se hoofstraat gaan begin afloop. Dit sal ’n tragiese dag wees.  ?


Gesiglose werkers kry deernisvolle, realistiese identiteit
deur Johan Myburg
Beeld - 08 Junie 2010

SA @ Work – Helena Hugo
UJ-galery, Johannesburg

Ek het die laaste paar maande gewoond geraak aan die gegrom van kruiptrekkers en laaigrawe, aan lugdrukbore en gewielde monsters wat agter hulle ’n streep teer laat.

In die straat buite die kantoor waar ek sit en werk, is gesiglose mense in Auckland Park besig om Kingsway te herbou. Ek hoor daagliks dié geluide – dié van Suid-Afrika aan die werk – maar ek merk kwalik die mense op wat masjinerie beheer en werkers wat graaf in die hand daagliks hul brood verdien. In hul oorpakke lyk die werkers almal dieselfde. Stap ek dan, ’n ent straat op, die galery van die Universiteit van Johannesburg binne, bly die klanke van die werkery draal, maar ’n mens word gekonfronteer deur werkers wat jy so maklik miskyk – nie net padwerkers nie, maar ook myners en vrugtepakkers, suikerrietsnyers en tuiniers, werktuigkundiges en werkers in werkwinkels.

Werkers wat handearbeid verrig; dié soort werk wat te maklik as minderwaardig beskou word.

Helena Hugo beeld dié mense uit teen die agtergrond van hul onmiddellike omstandighede, maar ook dié van hul drome en verwagtings.

In haar pastelportrette (dis verruklik noukeurige weergawes wat fotorealisme ver verbysteek) word die band tussen mens en masjien of bedryf telkens vooropgestel. Of dit nou mens en stootskraper is of mens en suikerrietland, die hegte konneksie tussen werker en werk word so intiem uitgebeeld dat die identifisering met die werk duidelik blyk. ’n Mens verbeel jou half die werkers neem trekke van die werktuie aan. Dat Hugo met die portrettitels die werk weerspieël, versterk hierdie gedagte des te meer.

Hugo buit nie haar onderwerpe uit nie, maar gee hulle weer met deernis – sonder om dit apologeties of verduidelikend te doen. Dat dié mense trots vind in hul werk, is die een gedagte waarmee ’n mens gelaat word op dié uitstalling. In ’n tyd van werkskaarste en afleggings raak haar pastel op koerantpapier onheilspellend. Geteken op sakeblaaie en advertensies vir werk benadruk sy die spanning tussen werker en werk; die spanning tussen voortbestaan en krepering. Namate ’n mens deur die uitstalling vorder, word die geluide van buite as’t ware stiller en jy raak bewus dat Hugo se werkers jou aanstaar – jý word die een wat dopgehou word.

’n Ongemaklike gedagte as jy so oop en bloot staan voor mense wat jy nie aldag in die oog kyk nie. Hugo sluit met SA @ Work nie net ’n wêreld oop nie, maar doen dit so oortuigend en met soveel detail dat die kyker herinner word aan die verantwoordelikheid van menslikheid en medemenslikheid. Sy lewer met dié werk ’n besondere bydrae tot sosiale kommentaar in die Suid-Afrikaanse gemeenskap en die visuele kunste. As ek terugry tussen die versperrings in Kingswaylaan deur, is dit nie net meer die grommende masjiene wat ek raaksien nie, maar ook die mense wat hulle beheer.


Onthutsende 'Werkers' neem fotorealisme verder
deur Johan Myburg
Beeld - Donderdag 23 Julie 2009

Om Helena Hugo se werk op haar jongste solo-uitstalling, Werkers, as fotorealisme te beskryf, sou nie ver uit die kol klink nie. Maar dan verg dié weliswaar misleidende beskrywing dat fotorealisme 'n bietjie verken moet word.

Dit is miskien omdat foto's so deel is van ons visuele verwysingswêreld (om verskeie redes) dat dié beelde voorrang geniet. Maar lank vóór die kamera het kunstenaars al oomblikke vasgegryp wat lens en film oortref.

Dit is 'n drogredenasie dat die fotorealistiese (of eerder hiperrealistiese) kunswerk die foto gewoon kopieer. Die kunswerk kan die foto verder neem, kan die fotografiese eienskappe as't ware uitbuit. En dit is juis hierdie aspek wat Hugo se hiperrealistiese werk so boeiend en verbluffend maak. Aan die een kand is dit die vaardigheid waarmee sy werk wat jou uitknikker, aan die ander kant die gelade segging wat onder die titel Werkers soveel meer word as net die vergestalting van arbeiders.

Met vernuftige kwasbeheer gryp Hugo in olie op bord die fynste detail van haar onderwerp vas – tot dié mate dat jy, terwyl jy verwonderd na die werk staar, skielik snap jý is die een na wie gestaar word. Die priemende en ondersoekende blik van die figure maak Hugo se werk besonder onthutsend.

In haar pastelwerke kom hierdie element nóg sterker na vore. Dit is asof die intensiteit van die pastelpigment die vlakke van onmiddellikheid des the meer opjaag en die oë wat na jou staar net te veel word. Die spanning tussen kyk en na gekyk word (en die ongemak wat ter sprake kom), voer Hugo tot kort duskant breekpunt.

In die groter werke (soos Moving the Trucks Out at Dawn, Moving the Dump Trucks en Seamstress) kom 'n ander soort spanning ter sprake. Dié van werker en masjien (as bron van arbeid). In talle van die werke word die mens deur die masjien of apparaat oorskadu (of gefragmenteer soos in Seamstress). Hoewel die titels na die werkers verwys, is dit die meganika wat wil-wil oorheers. Soveel dat iets van die Marxistiese dialektiek van werker wat vervreem word deur die werk wil deurskemer.

Hugo buit die oomblik gewis uit – daardie oomblik waarin die werker stol in haar blik. Maar die werker word nie uitgebuit nie. Haar werk is vol deernis sonder om apologeties te word of lanse vir iemand te wil breek.

Fyn waarnemer wat Hugo is, bring sy met haar weergawe van werkers 'n vars dimensie in die Suid-Afrikaanse visuele kunste. En verseker sy met hierdie uitstalling dat sy 'n kunstenaar is om mee rekening te hou.


Portrait of the Artist
by Jenna Mervis
Good Taste - November 2008

" When I look in the mirror at three in the morning , I see a mine worker just finished his shift, covered in soot or a poor migrant worker in old clothes. The unglamorous aspect of art-making," Helena Hugo confesses, "keeps one humble."

Clothes spattered wit oil paint. Face besmirched with chalk dust and charcoal. Fingertips stained with newspaper ink. These are the trademarks of an artist working to deadline, slaving (willingly, joyously) on a production line of inspired portraits. Not just any portraits, Not the kind we're conditioned to expect - faces from the upper echelons of society. These are portraits of men and woman who constitute the backbone of our economy: the blue-collar cogs of this country, manual labourers, often overlooked and taken for granted.

But skip ahead. Introductions first. Who exactly is Helena Hugo? "I'm not a crowd follower, " she replies." I'm a hard worker and a perfectionist. An introvert. I enjoy long periods of solitude, especially when working." In January 1975, at Ontdekkers Hospital, Helena became the newest creative addition to an already creative family. One could say that her artistic talent was discovered -forgive the irony- at an early age. " I remember obsessively drawing telephones. I would draw a huge house with different storeys, with an enormous amount of doors and on the ground level, a little table with a telephone on it," she confides.

Under the direction of drawing lecturer Diane Victor and figure- drawing lecturer Carl Jeppe, Helena developed an undeniable technical skill, which has enabled her to create impassioned art works. "I try to go beyond what I can see on the surface, to portray something we would not see by looking at a photograph. My style is representational - realism, but definitely not hyperrealism or photorealism."

Throughout her career, both with her nude figures and portraiture, Helena has tackled the issues surrounding identity in contemporary South Africa, from abortion to the individual's right to be recognised. Her latest solo exhibition - entitled KZN@Work - is a series of portraits that upends traditional expectations of portraiture, giving significance to the workers of Kwazulu Natal - from jewellery makers to brick workers and sugarcane cutters. Which brings us back to the beginning - that dishevelled state of production: of being an artist at work. Confronted by one of Helena's portraits, you are forgiven for overlooking the physical demanding process of art making: the preparation of the drawing surface, the sawing and sanding of board, the priming of paper, the alchemy of mixing colours, the painstaking application of layer on layer of paint. " Art making is two fold," Helena explains. "The first involves working with the idea. But then there is also the technical and practical process that you have to go through in order to achieve the final product: dealing with muscle aches dirt and exhaustion while pushing for a deadline."

Portraits mirror both subject and artist. Two are intertwined: they exist because of each other, in spite of each other. This raises the question of whether Helena's identity - as a young educated white woman - influences the way these labourers are represented. "In more ways than one I have led a privileged lifestyle compared to the average worker," Helena comments, "but I don't think this has an influence on the way I perceive them. In some respects I identify more closely with labourers. The way I work is not exactly glamorous. I do all of the hard physical work myself. I have a deep rooted respect and admiration for South Africa's workforce. I hope that when people look at my portraits they see individuals of enormous value looking back at them."


Follow this artist